VOORWAARDES EN BEPALINGS VIR INSKRYWINGS – DIE BURGER FIETSTOER (“DBFT”)

1.  VEREISTES VIR INSKRYWING

1.1       Om deel te neem aan DBFT-92km-afstand, moet fietsryers op die dag van die wedren:

1.1.1      12 (twaalf) jaar oud wees; of

1.1.2      10 (tien) jaar oud indien agterop ‘n tandem saam met ‘n volwassene.

1.2       Om deel ten neem aan DBFT-44km-afstand, moet fietsryers op die dag van die wedren:

1.2.1      10 (tien) jaar oud wees; en

1.2.2       vergesel word deur ‘n volwassene, hetsy op ‘n tandem of nie.

1.3       Die inskrywingsfooi sal terugbetaal word indien die fietsryer weens ‘n sterfte of hospitalisasie nie in staat is om aan DBFT deel te neem nie.

1.4       Indien ‘n persoon wat ingeskryf het, nie in staat is om aan die geleentheid deel te neem nie en die inskrywing wil laat vervang, kan die plaasvervangende fietsryer versoek word om die bedrag van die inskrywing te betaal, maar nie meer as wat oorspronklik vir die inskrywing betaal is nie. Die plaasvervangende ryer moet wel ‘n bykomende inskrywingsfooi van R50 betaal en moet seker maak dat die korrekte plaasvervangingsprosedure gevolg word, wat slegs by registrasie beskikbaar gestel sal word. Indien die korrekte prosedure nie gevolg word nie en die plaasvervangende fietsryer onwettig ry, kan beide partye gestraf word.

1.5       DBFT sal plaasvind ondanks slegte weer, en sal slegs om veiligheidsredes gekanselleer, herroeteer of gestaak word. In so ‘n geval, is inskrywingsgeld nie terugbetaalbaar nie.

1.6       Kommunikasie in verband met DBFT sal per e-pos of SMS plaasvind. Dit is elke deelnemer se verantwoordelikheid om hul kontakbesonderhede op datum te hou deur die  organiseerders hiervan in kennis te stel by info@dieburgerfietstoer.co.za

1.7       Ryers verleen toestemming vir die gebruik, te eniger tyd in die hede of toekoms, van alle fotografiese of videomateriaal met betrekking tot hul deelname aan DBFT wat deur die organiseerders of hul afgevaardigdes opgeneem word gedurende enige aktiwiteit wat geag word deel te vorm van DBFT en ander amptelike Lifecycle Week-aktiwiteite.

1.8       Die organiseerder behou die reg voor om enige persoon se inskrywing te weier of te kanselleer tot op die dag voor die DBFT. In daardie geval sal die persoon se inskrywingsgeld terugbetaal word.

2.  REËLS VIR DBFT

2.1       Elke ryer mag slegs stap of ry op ‘n menslik aangedrewe voertuig.

2.2       Elke ryer moet versigtig ry, met die nodige sorg vir die veiligheid van ander fietsryers en padgebruikers.

2.3       Elke ryer moet ‘n fietsryhelm dra met die bandjie stewig vasgemaak onder die ken.

2.4       Elke ryer moet onmiddellik die instruksies van ‘n DBFT-beampte en/of verkeersbeampte nakom.

2.5       Elke ryer moet onmiddellik inligting verskaf wat deur enige DBFT-beampte versoek word.

2.6       Elke ryer moet so ver moontlik aan die linkerkant van die pad hou as wat veilig is met inagneming van die omstandighede en toestande.

2.7       Elke ryer moet te alle tye sy/haar wedrennommer duidelik sigbaar vertoon en seker maak dat dit aan die agterkant van sy/haar hemp vasgespeld is.

2.8       Elke ryer moet hom/haar identifiseer en sy/haar adres op versoek verskaf aan ‘n DBFT-beampte en aan enige ander ryer wat sodanige inligting versoek na ’n botsing of insident tydens die wedren.

2.9       ‘n Ryer mag nie ry op ‘n fiets toegerus met driekamp-, tydtoets- of “Spinachi”-tipe stawe nie en die organiseerders behou die reg voor om die gebruik van sekere tipes wiele met lemme te verbied wat as onveilig beskou word.

2.10     Elke ryer moet die volle DBFT-roete ry of uitval indien hy/sy nie die volle DBFT-roete voltooi nie.

2.11     Daar word van ryers verwag om die DBFT-92km-roete te voltooi binne 6 (ses) uur, en die 44km-roete binne 4 (vier) uur ten einde ’n uitslag en voltooiingsertifikaat te ontvang, tensy die wedrenorganiseerders op wedrendag anders bepaal. Hierdie tyd word bereken van die tyd dat die ryer se groep oor die wegspringstreep beweeg. Vir die veiligheid van ryers en ooreenkomstig die vereistes van die Drakenstein- en Stellenbosch-verkeersdepartemente, is ’n aantal afsnypunte in die loop van die roete bepaal. Tye en liggings van hierdie afsnypunte is beskikbaar op www.dieburgerfietstoer.co.za voor die wedrendatum. Indien ryers nie daarin slaag om ‘n afsnypunt teen die spesifieke tyd te bereik nie, sal hulle nie toegelaat word om die roete te voltooi nie en die ryer en sy/haar fiets sal van die roete verwyder word en terug na die wegspring vervoer word. Regte is deur die Stellenbosch- & Drakenstein-verkeersdepartemente aan die Kaapstad-Fietstoertrust toegestaan om gedeeltes van die pad op die roete vir die duur van die geleentheid te gebruik. Die Kaapstad-Fietstoertrust staan dus onder verpligting om te verseker dat die DBFT-roete veilig gehou word beide vir motorryers en fietsryers vir die volle duur van die geleentheid. Ondersteuningsdienste sal onttrek word kort na die afsnytyd by die eindpunt. Enige fietsryer wat steeds op die roete is na die afsnytyd, sal op hul eie risiko ry. Agterryer-voertuie sal gedurende die geleentheid op die roete aanwesig wees om enige fietsryer wat nie die afsnypunt betyds bereik nie, na die eindpunt terug te bring.

2.12     ‘n Ryer mag nie ‘n persoonlike musieksisteem, bv. iPod, of ‘n radiokommunikasie-hulpmiddel, insluitend ‘n selfoon, tydens die rit gebruik nie.

2.13     ‘n Ryer moet met ‘n tydsidentifikasietranspondeerder deelneem en mag nie met ‘n ander fietsrye se nommer of tydsidentifikasietranspondeerder ry sonder om die plaasvervangingsprosedure te volg waarna in klousule 1.4 hierbo verwys word nie. ‘n Persoon wat ingeskryf het, mag nie sy/haar nommer en/of tydtranspondeerder aan ’n ander persoon gee om te gebruik nie.

2.14     ‘n Ryer mag nie vuil of aanstootlike taal gebruik of beledigende, onwelvoeglike of onvanpaste gebare gebruik nie.

2.15     ‘n Ryer moet te alle tye klere dra wat gepas is vir ‘n gesinsgeleentheid.

2.16     ‘n Ryer mag nie rommel langs die DBFT-roete strooi nie, behalwe in die vuilgoedhouers.

2.17     ‘n Ryer mag nie rook op die roete gedurende die DBFT nie, behalwe by ’n aangewese rookarea waarvoor voorsiening gemaak word.

2.18     ‘n Ryer mag nie wegspring of probeer wegspring voor sy/haar aangewese wegspringgroep nie. Enige ryer wat dit doen, kan gediskwalifiseer word.

2.19     ‘n Ryer moet die DBFT-roete op sy/haar eie sterkte voltooi en mag geen bystand in hierdie verband ontvang anders as om agter ’n ander deelnemer of deelnemers aan die DBFT aan te ry nie.

2.20     ‘n Ryer mag nie die DBFT-roete ‘n tweede maal ry na voltooiing nie, tensy hy/sy die toestemming van die organiseerder verkry het en alle vereistes nagekom het om sodanige toestemming te verkry.

2.21     ‘n Ryer moet redelike bystand verskaf aan enige ander ryer wat betrokke is in ‘n ongeluk tydens deelname aan DBFT.

2.22     ‘n Ryer moet verantwoordelik teenoor ander ryers optree deur die behoorlike hantering van sy/haar fiets.

2.23     Elite-, Dames- en Veteraangroepryers moet boonop voldoen aan alle toepaslike UCI-reëls en regulasies wat beskikbaar is by www.cyclingsa.com

2.24     ‘n Ryer mag nie deelneem terwyl hy/sy onder die invloed van alkohol of enige dwelmmiddel of medikasie is wat kan of moontlik kan verhoed dat ‘n ryer sy/haar fiets behoorlik beheer nie.

2.25     Elite-, Dames- en Veteraangroepryers mag nie medikasie neem wat prestasie kan verbeter nie. Ryers sal nie aan middeltoetse onderwerp word nie, behalwe dat enige ryer na ’n ongeluk mag getoets word vir alkohol of dwelms.

2.26     ‘n Ryer mag nie op sy/haar fiets, kleredrag en fietsrytoerusting enige skryfwerk, logo of item vertoon wat aanstoot gee of wat die DBFT in ’n swak lig kan stel nie, soos bepaal deur die Kaapstad-Fietstoertrust.

2.27     ‘n Ryer wat deur ‘n DBFT-beampte meegedeel word dat sy/haar gedrag daartoe kan lei dat hy/sy gediskwalifiseer kan word, moet onmiddellik spoed verminder en ophou ry op die roete.

2.28     Enige redelike mediese of noodontruimingskoste wat namens ‘n ryer deur die DBFT aangegaan word, sal deur die ryer gedek moet word.

3.     STRAF VIR OORTREDING VAN DIE REËLS

3.1       Elke ryer wat inskryf vir die DBFT, stem in dat sy/haar naam en/of nommer in die openbaar vertoon en gepubliseer mag word (insluitend op die internet) in ’n geval waar hy/sy gediskwalifiseer word.

3.2       ‘n Ryer mag summier sonder ‘n verhoor gediskwalifiseer word deur enige een of meer van die volgende persone:

3.2.1      ‘n Trustee van die Kaapstad-Fietstoertrust;

3.2.2      Enige ander persoon gemagtig deur die Kaapstad-Fietstoertrust.

3.3       Sodanige summiere diskwalifikasie mag onmiddellik plaasvind of na die voltooiing van die DBFT.

3.4       In die geval waar ‘n ryer gegrief is deur ‘n summiere diskwalifikasie kan hy/sy binne 3 (drie) dae nadat hy/sy van die summiere diskwalifikasie ingelig is, ‘n skriftelike versoek aan die Kaapstad-Fietstoertrust rig om herstel te word. Sodanige ryer mag so ‘n verdere versoek rig om herstel te word in ‘n geval waar hy/sy verdere inligting ontvang op ‘n later tydstip. Die aangestelde tribunaal mag hierdie tydstip uitstel indien daar goeie redes hiervoor verstrek word.

3.5       Enige sodanige versoek om herstel te word, moet oorweeg word deur ‘n tribunaal bestaande uit een of meer persone wat vir daardie doel aangestel word en hulle kan:

3.5.1      Glad nie optree nie;

3.5.2      Die ryer herstel;

3.5.3      Beveel dat verdere inligting verkry word;

3.5.4      Bykomende straf oplê, insluitend ‘n boete van tot R1 000,00 (een duisend rand) en/of by die Kaapstad-Fietstoertrust aanbeveel dat die persoon nie geskik is om in die toekoms aan die DBFT deel te neem nie.

3.6       Afgesien hiervan, hetsy of ‘n ryer summier gediskwalifiseer is of nie, kan die tribunaal wat vir die doel aangestel is, met kennisgewing aan ‘n ryer per e-pos of ander kommunikasiewyse, ‘n verhoor byeenroep om te bepaal of ‘n ryer gediskwalifiseer of enige ander straf opgelê moet word vir ’n oortreding van die reëls.

3.7       In die geval van ‘n diskwalifikasie, hetsy summier of na ‘n verhoor, moet ‘n ryer onverwyld enige prys wat voorheen aan hom toegeken is teruggee en voldoen aan enige beperkings  wat aan hom opgelê is.

3.8       Die voorsitter van die tribunaal moet bepaal watter prosedure gevolg moet word by enige verhoor, insluitend of ‘n verhoor onderneem moet word slegs op grond van skriftelike bewyse en vertoë en of daar ook ’n mondelinge verhoor moet plaasvind, en die aard of getuienis (insluitend hoorsê) wat toegelaat mag word. ‘n Ryer moenie geregtig wees op regsverteenwoordiging by so ‘n verhoor nie, behalwe met die toestemming van die voorsitter van die tribunaal. Die tribunaal moet ‘n besluit neem op ’n oorwig van waarskynlikhede.

3.9       ‘n Skriftelike appél kan binne 3 (drie) nadat die tribunaal sy besluit bekend gemaak het, aan die trustees van die Kaapstad-Fietstoertrust (die “Trustees”) gerig word. Die voorsitter van die trustees moet bepaal watter prosedure gevolg moet word vir sodanige appél.

4.       BEPERKING VAN AANSPREEKLIKHEID

4.1       Elke ryer wat aan die DBFT deelneem, doen dit op eie risiko en met die medewete dat sodanige deelname gevaarlik kan wees vir hul gesondheid, tot beserings, die dood of skade aan eiendom kan lei.

4.2       Die Kaapstad-Fietstoertrust is nie verantwoordelik om die fiksheid van enige ryer te beoordeel nie en elke ryer neem op sy eie verantwoordelikheid aan die DBFT deel indien die ryer goeie gesondheid geniet.

4.3       Die Kaapstad-Fietstoertrust, trustees, organiseerders en hul werknemers, vrywilligers en assistente is nie aanspreeklik teenoor enige ryer of ander persoon wat ‘n eis namens ‘n ryer instel vir vergoeding vir skade, persoonlike besering of dood wat veroorsaak is voor gedurende of na die DBFT nie, hetsy of sodanige skade aan eiendom, persoonlike besering of dood veroorsaak is deur die nalatigheid van die Kaapstad-Fietstoertrust, trustees, organiseerders en/of hul werknemers, vrywilligers en assistente en bogemelde partye is nie aanspreeklik vir enige eis om ’n bydrae of vrywaring in hierdie verband nie. 

5.     SKEIDBAARHEID

Indien daar bevind word dat een of meer van hierdie bepalings nie afdwingbaar is nie, moet sodanige bepaling geag word as skeidbaar te wees van die res van die bepalings en die bepalings en die oorblywende bepalings moet in alle ander opsigte ten volle van krag en geldig bly.

 

Deur aanlyn in te skryf, bevestig ek dat ek die bogemelde inligting verstaan en begryp en my keuse vrywilliglik uitgeoefen het en die vetgedrukte en onderstreepte klousules hierbo onder my aandag gebring is en dat ek voldoende geleentheid gehad het om die voorwaardes en bepalings te lees en te verstaan en dat ek instem om my daartoe te verbind.